Coetzenburg Swembad – Jare lange droom nou amptelik werklikheid

Die Universiteit Stellenbosch (US) se jare lange droom van ʼn nuwe Olimpiesestandaardswembad is bewaarheid.

Dié verhitte Olimpiesestandaardswembad van 50 m – die modernste swembad in sy soort in Suid-Afrika is Donderdag 13 Februarie 2014 amptelik geopen. Die oorspronklike Coetzenburg Swembad is in 1940 geopen en het vir bykans 70 jaar diens gedoen.

ʼn Sterre-aflos gelei deur Olimpiese en Paralimiese swemmers, ʼn waterpolo-wedstryd tussen die Maties en die Maties Old Boys en ʼn onderwaterhokkie-kragmeting met die Maties wat die Maties Legends gepak het, het deel gevorm van die opening van die Coetzenburg Swembad.

Die swembad-projek is befonds deur die Universiteit met ʼn ruim bewilliging van die Remgro Groep. Kragtens dié ooreenkoms word ʼn gedeelte van die swembad se kapasiteit tot beskikking van die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) gestel.

By die geleentheid het prof Russel Botman, US-Rektor en Visekanselier, gesê dat daar nie kompromieë aangegaan is wat die gehalte van die swembad betref nie. Daar bestaan by die US studente die potensiaal om Olimpiese en Paralimpiese kampioene te word. “Hulle moet op die bes moontlike manier ondersteun word.”

Die Olimpiese gouemedaljewenner Ryk Neethling, was ʼn gas by die geleentheid.